alleenstaner .

Vreemdeling van my gedagtes, indringer van ver

Ek nooi jou om te klop, huiwerlose verwelkoming.

Sê vir my, is die idee van jou beter as jy jouself?

Opsoek na alles van niks
koestering – kan jy dit vir my bied?

Krapman, hard van buite
veilig in jou omgewing
pantserplaat teen die moontlikhede
beskerm jouself teen die nuwighede.

Hart van binne, sag en warm
wil jy jou weerloosheid aan my ontbloot?

Gedagtes naak, ek’s skaam voor jou.

Harde eksoskelet, sal jy jou oor my ontferm?

Onbuigsaam en rigied,
verbrokkel jy as ek krom trek?

Ek wil jou rondom my vervorm,
my toevou in jou teenwoordigheid.

Sal jy my aanvaar, man van krap
of al my geheime verklap?

Sal jou noukeurige steeltjies oë sag op my val
en jou knypers oordeel oor my verbystaan?

Ek sal jou leuens leer liefhê
en oneindig koppies troos aandra
om jou onverklaarhede te ontsyfer.

Sal jy dit waag, man van gewoonte
vir my onstuimighede?

Of maak ek eerder vrede
met die wete
dat ‘n krap
altyd
‘n alleenstaner sal bly?

Leave a comment